HEIDELBERG TIMES

Mon 11:32 am
Sep 9, 2024
Lydia Rice
Lydia Rice

MOTOR VIR HAARKAPPER WAT MET OLIE BRAND

Weldoeners het ‘n voertuig aan Charmaine van Jaarsveld, die haarkapper wat baie erg met brandende olie gebrand het, geskenk.

Charmaine het nog nooit ‘n bestuurslisensie of ‘n voertuig gehad nie en K-Line Driving Academy van Nigel het leerling- en bestuurslesse ter waarde van R5 500 geskenk.

Heidelberg Times het verskeie berigte oor Charmaine gedoen om vir donasies te vra vir die haarkapper wat op 14 April haar hande, bene en voete erg beseer het toe vlammende kookolie op haar geval het.

Haar vriende en kollegas van Glam Hair Studio in die Forum-gebou het ook fondsinsamelings gehou.

Een van haar vriende, Monica Pieterse, is deur ‘n weldoener (wie nie hulle identiteit bekend wou maak nie) gekontak. Die weldoener wou ‘n motor skenk wat dan verkoop kon word vir meer fondse.

Monica het die weldoener gevra of hulle nie eerder die voertuig aan Charmaine kon skenk nie, aangesien sy nog nooit in haar lewe een besit het nie.

Die voertuig is op 26 Junie aan ‘n oorstelpte Charmaine oorhandig.

“Ek moes altyd in ‘n woonstel bly omdat dit naby my werk en my dogtertjie se skool geleë is. Wanneer ek my lisensie gekry het, kan ek dalk in ‘n plek met ‘n tuin gaan woon sodat my dogtertjie lekker buite kan speel,” het ‘n emosionele Charmaine gesê.

Sy het op 15 Junie vir die eerste maal sedert haar ongeluk, weer begin om kliënte se hare te sny.

Charmaine is steeds haar vrolike self en sê sy dra haar letsels met trots want dit herinner haar dat die Here haar nog ‘n kans in die lewe gegee het.

Sy is oneindig dankbaar vir die gemeenskap, vriende, medici (wat haar wondverpleging behartig het) asook kollegas wat haar deur die moeilike tyd gedra het.

Monica en Charmaine by die pragtige rooi motor wat geskenk is.
Charmaine saam met haar kollegas en vriende wat haar deur die moeilike tyd bygestaan het.
Die wonde aan Charmaine se hande is besig om mooi te genees.
Charmaine sê sy dra haar letsels met trots want die Here het haar nog ‘n kans gegee.
Charmaine is baie trots met haar heel eerste motor.