HEIDELBERG TIMES

Fri 4:29 pm
May 16, 2025
Neil Rice
Neil Rice

KOMMER OOR MYN WAT TUSSEN HEIDELBERG EN NIGEL BEPLAN WORD

Water, biodiversiteit en voedselprodusering in gedrang.
Grondeienaars van die Groenfontein-gebied tussen Heidelberg en Nigel is onkant betrap met die Departement van Minerale Bronne en Energie se goedkeuring van Nghala Mining Holdings se aansoek om in die gebied vir minerale te prospekteer.
Die vrees bestaan dat so ‘n oopgroefmyn die water asook die lug (vrylating van skadelike gasse) sal besoedel, om nie te praat van geraasbesoedeling nie.
Nicolette Botha (sameroeper en bekommerde inwoner) het aan Heidelberg Times gesê dat die grondgebied wat die myn in hulle oog het, ‘n waterryke, biodiverse, onbesoedelde gebied is, met verskeie bedreigde spesies wat daar voorkom.
Boonop loop TransNet se 555km lange ondergrondse pypleiding tussen Johannesburg en Durban (verby Jameson Park) deur hierdie gebied wat dit uiters gevaarlik maak om mynbedrywighede te beoefen.
Die pypleiding vervoer petroleum produkte soos petrol, diesel, lugvaartbrandstof en gas.
Volgens Nicolette het die departement in ‘n brief aangedui dat Nghala Mining Holdings mag voortgaan met die prospekteerimpakstudie.
TPR Mining Resources het bevestig dat hulle aangestel is om die omgewingsimpakproses te bestuur.
Die finale basiese asseseringsverslag moet binne 197 dae vanaf goedkeuring van die brief (wat op 25 Oktober 2023 geskryf is) by die departement ingedien word.
Die stuk grond wat ter sprake is, beslaan ongeveer 28 plase en kleinhoewes waar daar hoofsaaklik met sojabone en mielies geboer word.
Elise Tempelhoff van Beeld het berig dat Thomas Kgokolo sy visier ingestel het op ‘n verskeidenheid van minerale wat vemoedelik in die opvangsgebied van die Blesbokspruit lê.
Kgokolo is die voormalige waarnemende uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens en is tans direkteur van Nghala Mining Holdings.
Nicolette, wat ook 16 grondeienaars in dié gebied van sowat 1 000 ha verteenwoordig, sê dat geen grondeienaars oor munisipale water beskik nie. Hulle is afhanklik van boorgate.
Natuurlike waterstroompies wat van koppies in die Blesbokspruit inloop kan besoedel word. Die Blesbokspruit smelt saam met die Suikerbosrandrivier voor dit uiteindelik in die Vaaldam invloei.
Nicolette sê mynbedrywighede sal waterbronne uitput. Hier is ook ‘n verskeidenheid van wild- en voëllewe. Brulpaddas en nog nege ander paddaspesies kom hier voor.
Daar is talle vrae wat reeds deur die geaffekteerde gemeenskap geopper is. Talle besware is ook reeds aangeteken.
Nicolette sê Agri SA het ook aangedui dat hulle die dokumente sal bestudeer, waarna terugvoering oor moontlike hulp en bystand gegee sal word.
Nadat besware oor die kort kennisgewing geopper is, is die registrasiedatum vir belanghebbende partye tot 13 Maart uitgestel.
Volg hierdie skakel: info@tprmining-resources.co.za/ projects@tprmining-resources.co.za en vul die vorm op bladsy 7 in, indien jy as belanghebbende party geregistreer wil word.
Indien jy enige bydrae kan lewer, kan Nicolette by nfourie2@gmail.com gekontak word.
Die gebied wat geraak word, word soos volg aangedui: Portion 5 of the Farm Rietpoort 193 IR, Portions 4, 14, 16, 17 and 20 of the Farm Groenfontein 395 IR. Sien ook kaart hieronder wat die area aandui.