HEIDELBERG TIMES

Mon 11:12 am
Sep 9, 2024
Neil Rice
Neil Rice

KLEIN HEIDELBERG-SEUNTJIE VERLOOR DAPPER SIEKTESTRYD

Klein Lesley Froggatt het verlede week Woensdag (21 Februarie) gesterf ná ‘n 9-jaar lange dapper stryd teen ‘n seldsame lewersiekte (Biliary Artesia).
Die seuntjie was ‘n held vir almal wat hom geken het en hy gaan veral deur sy ouers, sussie en grootouers gemis word: “Ons engel het nou vlerkies. Vlieg hoog ons hero, ons gaan jou mis.”
Toe Lesley op 28 November 2014 gebore is, het dokters hom net agt maande gegee om te leef.
Hy het dringend ‘n leweroorplanting benodig, maar sy jong ouers, André en Welmari kon dit nie bekostig nie.
Hy was so siek dat hy in 2015 in die ou Natalspruit Hospitaal in Vosloorus opgeneem is, waar hy breindood verklaar is.
Die seuntjie het egter almal verbaas en bly lewe.
Bekende gholfspeler en sakeman PH McIntyre het daardie jaar ingespring en ‘n gholfdag gereël om geld vir die baba in te samel.
Lesley kon uiteindelik op 17 Maart 2016 ‘n oorplanting kry met die hulp van ‘n stuk van sy pa André se lewer en die fondse wat deur PH ingesamel is.
Die operasie was ‘n sukses. Lesley se liggaam het nie die lewer verwerp nie en hy het mooi begin vorder.
Kort ná die oorplanting, is bloedkanker by hom gediagnoseer. Weer het die seuntjie almal verbaas deurdat hy volkome en wonderbaarlik herstel het.
Lesley se grootouers, Okkie en Elaine Burger, het aan Heidelberg Times vertel dat hy ná al die terugslae soos enige woelige jong kind begin lewe het.
Hy kon egter nie in hoofstroom-skole aanpas nie en die familie was vanjaar besig met die aansoekproses om hom in ‘n spesiale skool te plaas.
Ongeveer twee jaar gelede het Lesley weer begin siek word en dokters het bevind dat sy galbuis verwyder moes word. Hy is toe eers met behulp van steroïde behandel.
Dit het so goed gewerk, dat ‘n operasie nie nodig was nie.
Lesley het Saterdag (17 Februarie) oudergewoonte by Oupa en Ouma Burger gekuier, toe hy weer siek begin word het.
“Hy was goudgeel en ons kon sien dat hy baie siek is,” het ‘n hartseer Elaine vertel.
Lesley is in die hospitaal opgeneem, maar sy hartjie het verlede Woensdag gaan staan.
Elaine en Okkie sê dat Lesley se kamer by hulle huis nou leeg is. Hy het as siek babatjie by die Burgers gewoon, sodat hulle kon hand bysit waar nodig en het ‘n hegte band met hulle gevorm.
Hy was ook baie geheg aan sy eenjarige sussie Mareley. Mareley is ‘n kombinasie van Ma Welmari en Lesley se name.
“Mareley het hom Maandag toe hy so siek was, styf vasgehou en hom oor en oor gesoen,” het Elaine gesê.
Reach for a Dream het verlede jaar vir Lesley gevra dat hy drie wense moet gee, wat hulle wou help vervul.
Hy wou baie graag ‘n tablet hê waarop hy sy geliefde speletjies kon speel. Hy wou ook graag dieretuin toe gaan en treinry.
Lesley was ook baie lief vir McDonalds.
Reach for a Dream het toe vir Lesley op sy verjaarsdag met ‘n uitstappie na Johannesburg Dieretuin verras. Hy het ‘n tablet present gekry en is met ‘n lekker McDonalds-ete bederf. Hy is ook met balonne en geskenke bederf.
Sy droom om trein te kon ry, kon ongelukkig nie bewaarheid word, voor hy gesterf het nie.
Lesley was ‘n liefdevolle seuntjie wat in almal wat hy ontmoet het, se harte gekruip het.
Ons innige simpatie aan André en Welmari, Okkie en Elaine en sy ander grootouers, Willie en Bettie Bernhardt.
Lesley se begrafnis is Vrydag (1 Maart) om 10:00 vanuit die AGS Kairos Kerk in Voortrekkerstraat.